Hervul met liefde

Post date: Jun 7, 2010 3:57:22 PM

“Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles” – 1Kor 13:7(NLV)

Liefde kan baie uitputtend wees. Moenie enige illusies hê nie. Die tipe liefde wat rêrig ‘n verskil maak in die wêreld, tap jou energie.

Dikwels voel jy dat jy net nie meer nog liefde óór het om te kan gee nie. Miskien moet jy heeldag met veeleisende mense werk – soos ‘n onderwyser, ‘n verkoopsman, ‘n kliënte dienste assistant, of ‘n kelner – en kom tuis en dink: “Ek kan nie nog ‘n enkele behoefte, klagte, probleem of hartseer storie verduur nie”. Jy het genoeg gehad.

Moontlik moet jy liefde bewys aan ‘n spesifieke persoon wat veeleisend, selfsugtig en ondankbaar is. Iemand wat nie ‘n greintjie van jou volgehoue liefde beantwoord nie, en jy dink: “Nou’s dit klaar, ek het nou genoeg gehad”.

Alhoewel dit heeltemal natuurlik en menslik is, is dit nie die gehalte liefde waartoe God ons roep in die Bybel nie. Die Bybel sê: “Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop ,dit verduur alles”. Die Good News vertaal met: “Love never gives up, never loses faith, is always hopeful, and endures through every circumstance.” Die liefde waartoe God ons oproep is “liefde wat nie wil ophou nie, maar wil aanhou.”

Hoe kan ons hierdie “nimmereindigende volgehoue liefde” vir ander mense behou? Ons moet telkens hervul. Onlangs moes ek my dogters op die lughawe gaan haal. Die hoeveelheid lugverkeer het my verbaas. Ek het vir myself ‘n begrip probeer vorm oor die hoeveeldheid brandstof waarmee sulke groot stralers hervul moet word. Stel ons voor die vlieënier van só ‘n straler sou sê: “Ek het nie nodig om te hervul nie.” Natuurlik sal die straler verongeluk en uitbrand. Om enige vlug suksesvol te voltooi moet die straler hervul.

Vir die gehalte liefde waartoe God ons roep, moet ons telkens ons lewens met Sy liefde hervul. Kyk ons eerlik om ons heen in ons gemeenskappe, sien ons orals die verstrooide brokstukke van verongelukte en uitgebrande verhoudings, omdat mense hulleself nie met liefde hervul het nie.

Hoe hervul ons weer met liefde? Waar begin ons? Ons laat God ons liefhê. “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het” (1 Joh 4:19). Wanneer ons leeg getap is. Wanneer ons moeg is. Wanneer ons nie meer weet hoe om nog liefde te gee nie. Dan moet ons onthou, dat God ons só liefgehad het, dat Hy sy Seun gestuur het om vir ons te sterf. Ja, te sterf, oor ons soveel lief te hê. Daar’s nou vir jou hervulling. Dis wat ons liewer laat stil bly oor ander se foute, laat bly vertrou, laat aanhou met hoop, en alles verduur. Kom ons hervul met liefde vir die avontuurvlug wat wag!