Onder is bo!

Post date: Nov 4, 2012 3:07:47 PM

Jakobus 4:7-14

Onderwerp julle dan aan God (4:7)

"Laag is hoog". "Onder is bo" "Klein is groot" "Laaste is eerste" "Agter is voor"

Maak hierdie stelling vir jou enige sin? As jy op Jesus se hakke loop, sal jy weet dat dit die nuwe hoofopskrifte van die evangelie is. Jesus se evangelie draai die wereld onderste bo. By Hom geld totaal nuwe waardes. By Hom is daar nuwe helde, nuwe beginsels, splinternuwe lewe. Dit alles begin op jou kniee. Wanneer jy buig voor God, verander letterlik alles tussen hemel en aarde. Dan is onder bo!

Jakobus se wanneer jy voor God buig, gee Hy eerstens sy goedheid of genade aan jou. Wanneer jy klein voor God is, sien Hy jou elke slag op jou kniee in die stof raak. Dan steek Hy sy hand na jou toe uit en tel jou uit genade op. Daar gebeur egter nog iets as buig. Jy word geestelik sterk. Dit stel jou in staat om die duiwel teen te staan. Ja, jy is op jou sterkste as jy op jou kniee voor God is. Dan is jy in Jesus se Naam triomfator oor die Bose. Hy sal van jou af padgee.

Nog 'n wonderwerk wat gebeur as jy voor God buig, is dat Hy tot jou nader. God stel nie belang in jou staatus, afkoms, beroep, gewildheid, of wat nog alles nie. Al wat vir Hom saak maak, is dat jy in Jesus se Naam voor Hom verskyn met 'n nederige hart en in opregtheid. Dan draai die wereld voor jou om. Dan laat God jou LEEF!!!

Gebed: Christus, ek verskyn in u Naam voor die Vader.

Uit: Die hele Bybel-dagboek - Stephan Joubert uitgegee deur Lux Verdi - BM