Wanneer ander by jou veilig voel

Post date: Sep 19, 2011 5:25:42 AM

‘n Europese leraarsvriend vertel my van ‘n ateïs wat deel van hulle gemeente daar in Nederland is. Toe hy vir hierdie man vra hoekom hy na hulle kerk toe kom, was sy antwoord: “Julle het my vriende geword.” Mooi, né? Daar waar die evangelie reg én regtig werk, klim mense graag oor hulle selfgemaakte veilige heinings na ander toe. Daar is versoening nie net ‘n mooi klinkende kerklike woord nie. Daar word dit reg vertaal en uitgedruk in verhoudings wat deur omgee gekenmerk word.

Ons kyk onsself gedurig blind teen mekaar se velkleur, status of posisie. Ons meet mekaar aan veldiep dinge soos voorkoms, titels en beroepe. Ons etiketteer mekaar op grond van tydelike dinge. Kom ons deurbreek sulke slegte gewoontes. Nee, kom ons sien dit ‘n slag vir wat dit regtig is: strikke van die opposisie om ons af te sonder van ander mense omdat ons dan begin dink ons is beter as hulle. Eers wanneer die Here ons van ons eie grootheidswaan stroop, raak ons diensbaar en bruikbaar. Dan is ons harte oop vir vriend en vyand, gelowige en ongelowige. Dan is ons bereid om vriende te maak met enigiemand vir wie Jesus sy lewe afgelê het!

Stephan Joubert